Daarna het die aanvallers die brandkluis uit die huis gedra.

 

Daarna het die aanvallers die brandkluis uit die huis gedra.

Dit kom nadat ’n ander Welkomse eiendomsagent in ’n vorige voorval ook onder valse voorwendsels na ’n huis gelok is en byna vermoor is. Eunice van Vuuren (60) was gister ná die nuutste voorval steeds erg geskok en sal deur die eiendomsagentskap Barbour en ¬Thorne met traumaterapie bygestaan word. Evyn Thorne, ’n direkteur van Barbour en Thorne, sê agentskappe sal koppe bymekaar moet sit om die veiligheid van agente te verseker. “Hierdie moet vir ons ’n ernstige waarskuwing wees. In die ekonomiese tye waarin ons leef, gaan dié soort van ding al hoe meer voorkom en ons moet voorbereid wees.” Hy sê die twee mans het ’n telefoniese afspraak gemaak om na die huis in Jim Fouchépark te gaan kyk. Hulle het nie deur die kantoor gewerk nie en Van Vuuren, ’n onafhanklike agent, het die mans Woensdagmiddag by die huis ontmoet. Die eienaars was nie tuis nie, maar die huiswerker wel. Die mans het deur die huis geloop, voorgegee dat hulle baie belang stel om te koop en het foto’s geneem. Hulle het skielik vuurwapens uitgeruk en Van Vuuren en die huiswerker oorval. Hulle is gedwing om op die vloer te lê. Die mans het daarna die deur van die kamer waarin die kluis is, oopgeskop en dit uit die kas gehaal. Dit is op hul bakkie in die oprit gelaai waarna hulle weggejaag het. Van Vuuren se sleutels en selfoon is ook gebuit. Thorne sê huiseienaars moet gewaarsku word om nie mense sonder behoorlike afsprake in hul huise toe te laat nie. As dit by skouhuise kom, sal veiligheid ook opgeskerp moet word. • Lindy Behr, eiendomsagent van Welkom, is vroeër onder valse voorwendsels na ’n huis gelok waar probeer is om haar te vermoor. John Mojalefa Raliboke is later in hegtenis geneem nadat iemand ’n berig oor hom in Volksblad gesien en die polisie gebel het. Behr is na die huis gelok onder voorwendsel dat sy met die kontantverkoop van die huis moes help. Sy het vroeër ’n mandaat vir die verkoop van die huis gehad. Sy het by die tafel gesit en die kontrak ingevul toe sy van agter gegryp, ’n japon oor haar kop gegooi en ’n koord om haar nek styfgetrek is. In die hewige worsteling wat daarna gevolg het, het Behr die japon van haar kop afgekry en die mes ontduik waarmee die man haar wou steek. Sy kon die agterdeur oopkry. Sy het skreeuend die strate ingevlug waar sy hulp gekry het.