Ons reg en die beperkinge van die "voetstoots"klousule

 

Ons reg en die beperkinge van die "voetstoots"klousule

Eerstens moet mens vasstel of die probleem 'n latente defek is. 'n Latente defek is een wat die gewone koper nie deur normale ondersoek en inspeksie sou raakgesien het nie.

Kyk hierna weer na die bepalings van die koopooreenkoms. Dit is standaardpraktyk dat die verkoper in die kontrak self afstand sal doen van enige aanspreeklikheid vir enige latente defekte in die woning by wyse van die "voetstoots"klousule.

Verstaan asseblief dat 'n verkoper nooit aanspreeklikheid kan ontsnap van enige defekte waarvan hy inderdaad kennis dra nie. Die voetstootsklousule kan dus nie gebruik word om enige gebreke waarvan die verkoper reeds van bewus is, te verswyg of te verdoesel nie. Die opsetlike verswyging van 'n wesentlike gebrek in die koopsaak kan maklik op bedrog neerkom.

Dit word algemeen aanvaar dat gewone transaksies waar die koper en verkoper by die eenmalige verkoop van 'n woonhuis betrokke is, nie aan die bepalings van die Verbruikerswet onderhewig gaan wees nie. As die verkoper 'n ontwikkelaar is, gaan dit wel geld. Dan sal die koper in 'n veel sterker posisie wees en word sekere waarborge by die transaksie inbegrepe. Die beskerming van die voetstootsklousule is waarskynlik dan glad nie tot die verkoper se beskikking nie. Dit word wel aanvaar dat eiendomsagente, wat betrokke is as agente by die verkoping van private wonings, se optrede wel deurentyd aan die bepalings van die Verbruikerswet sal moet voldoen.

Neem asseblief kennis dat die eisoorsake van die hofsake wat hieronder vermeld word, uit die periode spruit nog voordat die Verbruikerswet in werking getree het.

As jy nie weet nie.

'n Verkoper kan nie aanspreeklik gehou word vir 'n gebrek wat nie aan hom bekend is nie. 'n Onlangse saak in die Hoë Hof illustreer hierdie punt. Hier was 'n grasdakhuis ter sprake. Die verkoper het kort tevore omvattende herstelwerk aan die dak laat doen om verskeie lekplekke aan die dak reg te maak. Dit het hy ook so aan die voornemende koper oorgedra.

Wat is die regte gradiënt vir gras?

Nadat die koper oordrag van die huis geneem het, het die dak weer gelek. Die koper het die hulp van 'n strukturele ingenieur, 'n deskundige op die gebied van grasdakstrukture ingeroep. Die ingenieur se aanbeveling was dat die dak vervang, eerder as herstel moes word, aangesien die dak se gradiënt nie reg was nie. In sy latere getuienis tydens die hofsaak dui hy aan dat 'n gradiënt van 45° ideaal is, terwyl 'n gradiënt van minder as 30º nie funksioneel sal wees nie.

Die bevinding

Die koper het die verkoper gedagvaar vir 'n vermindering van die koopprys, alternatiewelik vir skadevergoeding. Na aanhoor van die getuienis, bevind die hof dat die verkoper nie geweet het van die strukturele en wesentlike gebrek in die dakkonstruksie se gradiënt nie. Gevolglik word die verkoper se beroep op die voetstootsklousule erken en gehandhaaf en word die koper se eise van die hand gewys.