Kennis is mag.

 

Kennis is mag.

TWISPUNTE ONDER DIE ERFGENAME - 'N TESTAMENT PRAAT WANNEER JY NIE KAN NIE

"Net pagters ons; van stof en dons om oor te voer; aan Skoppensboer." (Eugene N Marais - Uit Skoppensboer 1921)

Niemand is onsterflik nie en die dood kom dikwels onvoorsiens. Hierdie is goeie redes waarom ons almal moet toesien dat ons testamente in plek en op datum is.

Wanneer jy sonder 'n testament tot sterwe kom ("intestaat") is daar sekere praktiese aspekte oor die administrasie van jou boedel wat aan ander oorgelaat word, soos: ? Wie as die eksekuteur van jou boedel aangestel moet word. Dit is tog beter om vooraf self iemand te benoem om jou boedel op 'n onafhanklike en professionele wyse en met die minste vertragings te beredder. ? Die toedeling van spesifieke bates aan spesifieke erfgename. Sonder 'n testament hang die praktiese verdeling van bates in die lug en is jou langslewende gade regtens slegs geregtig op 'n sogenaamde "kindsdeel" van jou boedel; heel moontlik het jy in gedagte gehad dat die volle boedel of ten minste 'n groter gedeelte as 'n kindsdeel na jou langslewende gade moet vererf. Dit maak dinge ook makliker as jou testament gereeld hersien en professioneel opgestel word. Twee onlangse uitsprake van die Hoogste Hof van Appèl handel juis oor testamente - die een saak oor onduidelikhede in opeenvolgende testamente; die ander oor die nakoming van voorgeskrewe formaliteite. 1. In die eerste geval het die oorledene, oor 'n tydperk van ses maande, twee uiteenlopende testamente onderteken. Die goue reël by die uitleg van testamente is om te probeer om die werklike bedoeling van die testateur vas te stel. Die hof moes hier die twee testamente met mekaar vergelyk en slegs in gevalle waar bepalings van die eerste testament in stryd met die tweede testament was, was die bepalings van die tweede testament aanvaar. Hierdie oefening en die vertraging met die afhandeling van die beredderingsproses kon vermy gewees het, indien die tweede testament uitdruklik die eerste testament herroep het; of ten minste duidelik was oor die mate waarin dit deur die latere toevoegings gewysig is. 2. In die tweede geval is 'n nuwe testament opgestel en onderteken omtrent 'n jaar nadat die eerste testament opgestel is. Daar is toe aangevoer dat die tweede testament 'n vervalsing was en deskundige getuienis van 'n handskrifdeskundige is ter ondersteuning hiervan aangebied. Die hof bevind egter dat daar altyd versigtig met sodanige getuienis omgegaan moet word en beslis dan dat die latere testament wel die geldige een is. Die formele vereistes is nagekom, wat spesifiek inhou dat die testateur die testament in die teenwoordigheid van twee onafhanklike getuies onderteken het. Hierdie twee getuies kon die direkte getuienis van die prokureur dat die handtekening eg was, ondersteun en bevestig. Ter afsluiting: Onthou om jou testament gereeld na te gaan - een keer in twee jaar; maar meer gereeld indien enigiets spesifiek in jou lewe drasties verander; soos ander afsterwes; troues in die familie; mediese behoeftes; kinders; egskeidings - maak jou eie lys. Dagboek dit en gee van tyd tot tyd aandag hieraan.

KONTRAKTEURS EN GEBREKKIGE KONSTRUKSIEWERK: WAT STAAN JOU TE DOEN?

Waar 'n kontrakteur se werk gebrekkig is, moet jy hom die geleentheid gun om die gebrek reg te stel indien hy beide bereidwillig en bevoeg is om dit te doen.

So bevind die Hoogste Hof van Appèl onlangs, dat 'n kontrakteur, wat betrokke was by die konstruksie van 'n houerstasie (container depot), geregtig was om die kontrak te kanselleer. Dit nadat die eienaar geweier het om hul die geleentheid te gee om die gebrekkige werk te herstel.

Die kontrakteur se kansellasie het gevolg nadat die werkgewer/eienaar fondse teruggehou het wat in terme van 'n interim sertifikaat verskuldig was. Die werkgewer/eienaar het opdrag gegee dat die kontrakteur alle herstelwerk moes staak, aangesien hulle herstelmetode volgens die eienaar onvoldoende sou wees.

Die werkgewer/eienaar eis toe skadevergoeding van die kontrakteur vir kontrakbreuk, maar die eis was onsuksesvol. Die Hof beslis dat "where a contractor is willing and able to attend to defects that manifested themselves prior to final completion being reached ........., such contractor cannot be in breach ......... provided he remedies such defects with due skill, diligence, regularity and expedition".

Hou in gedagte dat elke saak verskil en dat jou konstruksiekontrak dalk spesifieke terme mag bevat wat dispute oor gebrekkige werk reguleer. Indien jy onseker is hieroor, verkry advies!

DIE HIV POSITIEWE WERKNEMER EN DIE STRAF VIR DISKRIMINASIE EN ONTSLAG

In 'n saak wat onlangs voor die Arbeidshof gedien het, was 'n HIV positiewe man tydelik as 'n Perdry-instrukteur en Stalbestuurder aangestel. Tydens die voorafgaande werksonderhoud het hy nie sy HIV status, allergieë en ander siektes openbaar nie. Toe sy HIV status en ander mediese toestande onder die werkgewer se aandag gebring is, is hy summier ontslaan en met mag en mening van die werksplek verwyder. Die redes vir sy ontslag was wangedrag, spesifiek bedrieglike wanvoorstelling as gevolg van sy versuim om sy mediese toestande aan sy werkgewer te openbaar.

Die hof stem egter nie saam met die ontslag nie en ken twaalf maande se vergoeding aan die werknemer toe vir onbillike ontslag. Die hof maak die volgende bevindinge: - ? Die werklike rede vir die ontslag was duidelik die werknemer se versuim om sy HIV status te openbaar. ? Ontslag as gevolg van 'n werknemer se HIV status is outomaties onbillik, tensy dit geregverdig kan word op die basis dat dit 'n inherente vereiste van die werk is, dat die werknemer HIV negatief moet wees. ? 'n Voornemende werknemer is onder geen regsverpligting om sy HIV status aan sy voornemende werkgewer te openbaar nie. Enige verwagting dat hy dit moes openbaar, word as 'n onaanvaarbare skending van sy reg tot waardigheid en privaatheid beskou. ? Die versuim om die inligting oor te dra het nie 'n opsetlike weerhouding van informasie daargestel nie. Dit was ook nie die gevolg van oneerlikheid of bedrog nie. ? Die werknemer was geensins uiters sieklik nie. Die werknemer het inderdaad geen mediese of fisiese beperkinge gehad of ervaar wat hom enigsins verhoed het om sy pligte te verrig nie. Die bevel reflekteer die vergoeding sowel as die bestraffende element vir onbillike diskriminasie op grond van HIV status. Die werknemer was 'n tydelike werknemer met 'n drie maande kontrak. Indien dit nie die geval was nie, sou hy geregtig gewees het op die maksimum vergoeding van 24 maande se besoldiging.

PAIA HANDLEIDINGS - FINALE SPERDATUM IS HIER!

Ses jaar na ons vir die eerste maal aanmanings ontvang het om te voldoen aan die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Promotion of Access to Information Act PAIA) is dit nou sulke tyd. Hierdie wet vereis dat alle publieke en private entiteite 'n PAIA Handleiding moet voorberei, indien en publiseer (ook op enige webtuiste wat jy mag hê).

Toe, letterlik op die laaste minuut is die meeste kleiner besighede uit die verknorsing gehelp. Die oorspronklike sperdatum van 31 Augustus 2005 was uitgestel tot 31 Desember 2011. Destyds is gehoop en aanvaar dat kleiner besighede mettertyd in geheel vrygestel sal word van hierdie verpligting.

Natuurlik kan daar weer uitstel of vrystelling afgekondig word. Op hierdie stadium lyk dit egter nie so nie. Laat hierdie dan 'n vroegtydige waarskuwing wees - moet dit nie tot die laaste minuut los nie, kry jou handleiding nou in plek.

Neem kennis: Almal van ons wat op 'n manier handel dryf, maak nie saak hoe klein nie, val hier binne die wetgewing se trefwydte. Die definisie van "private body" sluit in enige persoon of vennootskap in die uitvoering van enige vorm van handel, besigheid of professie, insluitende enige regspersoon.

SONERINGSOORTREDINGS: KAN LANGDURIGE GEBRUIK DIT WETTIG MAAK?

Dit gebeur soms dat 'n eiendom vir dekades lank, oop en bloot in stryd met die heersende soneringsbeperkings gebruik word.

Jy mag dalk dink dat dit logies is dat die plaaslike owerheid dan die reg verloor het om die gebruiksbeperkings af te dwing.

Tog is dit nie so nie. Die Hoë Hof het dit duidelik gemaak dat 'n statutêre liggaam (soos die munisipaliteit) nie die bevoegdheid het om afstand te doen van sy plig om soneringswette af te dwing nie.

In die onderhawige saak was die grond ter sprake uitsluitlik gesoneer vir gebruik as Landbougrond en vir Residensiële wonings. Die grond is egter vir langer as 25 jaar openlik vir sake-doeleindes gebruik. Die hele gebied het oor 'n periode van 30 jaar geleidelik van karakter verander, met baie ander eiendomme wat ook vir sake-doeleindes aangewend is.

Toe die munisipaliteit uiteindelik aansoek gedoen het vir 'n interdik om die eienaar en besitters (elektriese ingenieursdienste en 'n meubelvervaardiger) te verhinder om die persele vir besigheidsdoeleindes te gebruik, is verskeie verwere geopper: - ? Stilswyende goedkeuring deur die munisipaliteit; ? Onbehoorlike vertraging met die afdwinging van die gebruiksbepalings; ? Radikale verandering in die karakter van die buurt ? Selektiewe (en daarom onkonstitusionele) afdwinging. Die interdik word toegestaan en die eienaar se verwere word een vir een van die hand gewys. Die hof bevind dat 'n plaaslike owerheid as 'n verteenwoordigende liggaam nie afstand kan doen van regte wat in die openbare belang aan hul toevertrou is nie. Selfs waar die munisipaliteit vir jare versuim het om die stadsbeplanningskema af te dwing (wat die munisipaliteit in elk geval ontken het), het hul steeds 'n plig om die wet te handhaaf en af te dwing.

Die eienaar en die verwante besighede is gevolglik gebied om hul sake-bedrywighede onmiddellik te staak. Hulle moet nou deur die lang en onsekere proses gaan om vir hersonering aansoek te doen. Net om verdere sout in die wonde te smeer, staan die hof kostes op die bestraffende skaal van prokureur en kliënt teen hul toe.

DWELMREHABILITASIE - KAN JY DIT AFDWING?

Wat kan jy doen vir 'n dwelmverslaafde wat, alhoewel hy of sy dringend behandeling benodig, weier om rehabilitasie te ondergaan?

'n Onlangse saak wat in die Hoë Hof aangehoor is, bied 'n voorbeeld van hoe om dit nie te doen nie. Uiteraard het mens die nodige empatie en simpatie met die moeilike posisie waarin 'n verslaafde persoon se radelose naasbestaandes hul bevind.

Hier het 'n bekommerde vader probeer om sy dogter ('n getroude volwassene) teen haar wil by 'n behandelingsinstelling toegelaat te kry. Hy het gekies om nie die statutêre prosedure vir verpligte gevangesetting deur 'n landdros te volg nie. Hy voer aan dat die statutêre prosedure 'n uitgerekte proses is en dat 'n dringende hofbevel nodig was om te verhoed dat sy onherstelbare leed opdoen.

Hy nader die Hoë Hof dus op 'n dringende basis en verkry 'n tussentydse hofbevel. Hiervolgens mag die dogter deur die polisie, teen haar wil en indien nodig ook met geweld, verwyder word en in 'n behandelingsentrum opgeneem word.

Op die keerdatum word die interdik egter deur die hof ter syde gestel. Die vader moes ook die regskoste op die bestraffende skaal betaal. Die Hof bevind dat die dogter se grondwetlike regte (insluitende haar reg tot vryheid van beweging, haar reg om nie op lukrake wyse van haar persoonlike vryheid ontneem te word nie en haar regte tot waardigheid, privaatheid en vryheid van assosiasie) geskend was en dat daar geen regverdigbare basis was waarop die applikant - die pa - die bevel kon verkry het nie.

Die hof bevind dat die dogter, as volwasse persoon, beklee is met die volle bevoegdheid om besluite namens haarself te maak. Dit hou in dat sy ook die reg het om self te bepaal wat haar eie toekoms inhou en meer spesifiek of 'n spesifieke leefwyse wat haar welstand nadelig kan raak, vir haar aanvaarbaar is of nie.