Kom ons kyk eers na die feite:

 

Kom ons kyk eers na die feite:

? Hier het die ontwikkelaar van 'n deeltitelontwikkeling aan agente opdrag gegee om eenhede van 'n luukse ontwikkeling wat nog gebou moes word, van plan af te bemark en te verkoop. ? 'n Koper wat 'n eenheid op die vierde vloer van die ontwikkeling gekoop het, is die versekering gegee dat hy 'n onbelemmerde see-uitsig vanuit sy eenheid sou geniet. ? Hierdie meedeling is bevestig in die bemarkingsmateriaal en spesifiek in 'n kompakskyf wat die verkoper aan die koper gegee het. ? Tot groot onsteltenis van die koper het dieselfde ontwikkelaar kort daarna begin met die oprigting van 'n aangrensende ontwikkeling van vyf verdiepings - wat uiteraard wesentlik inbreuk gemaak het op die koper se uitsig. ? Die koper het die verkoper hierna vir skadevergoeding gedagvaar vir bedrieglike wanvoorstelling, alternatiewelik vir die verswyging van materiële inligting. Op appèl word die koper se eis van die hand gewys. Die Appèlhof bevind dat die agente waarskynlik net hul opinie uitgespreek het oor die toekomstige stand van die uitsig; sodanige optrede maak hul nie aandadig aan wanvoorstelling nie.

Indien jy regtens 'n eis wil indien op sterkte van 'n voorstelling wat gemaak is, moes die voorstelling as 'n feit en nie slegs as 'n opinie uitgespreek gewees het nie.

"To be actionable in our law, ....... a representation must relate to an ascertainable fact as distinct from a mere expression of opinion......what is decisive is a holistic view of the terms of the representation and the context in which it was made."

Kopers: Die onderskeid is baie fyn wat tot onnodige en duur litigasie kan lei. Aanvaar dat die Wet op Verbruikersbeskerming die koper se posisie in die toekoms beslis sal versterk. Indien die agent se meedelings en beloftes oorredend is by jou besluit om te koop; maak dit net sin om sodanige meedelings op skrif te plaas en deel te maak van die ooreenkoms - selfs as 'n getekende aanhangsel tot die getekende ooreenkoms.

Verkopers en agente: Maak seker dat alle reklamemateriaal die ware feite bevat en dat alle meedelings en ondernemings op skrif gestel word. Die Wet op Verbruikersbeskerming verbied uitdruklik valse, misleidende of bedrieglike voorstellings.

ONTSLAG VIR ONEERLIKHEID - WANNEER IS DIT GEREGVERDIG?

Wanneer sal ontslag die gepaste sanksie wees vir 'n werknemer wat hom aan oneerlikheid skuldig gemaak het?

In 'n saak wat die Arbeidshof onlangs aangehoor het, is bevind dat 'n senior munisipale bestuurder jare gelede oneerlik opgetree het deur 'n vervalste Namibiese bestuurderslisensie te gebruik om 'n Suid Afrikaanse lisensie te verkry.

Dit het toevallig aan die lig gekom terwyl die Skerpioene 'n algemene ondersoek na vervalste bestuurderslisensies ingestel het.

Die Arbeidshof het die munisipale bestuurder se ontslag gehandhaaf. Die hof bevind dat vertroue 'n wesentlike element in die verhouding tussen werkgewer en werknemer is. Oneerlike optrede kan die vertrouensverhouding skaad en die diensverhouding vernietig.

Die hof temper sy bevinding deur te sê dat ontslag nie altyd die gepaste sanksie sal wees nie. In gevalle waar die oneerlike optrede nie so grof of ernstig van aard is nie, behoort versagtende faktore soos berou, dienstydperk, diensrekord ensovoorts in ag geneem te word ten einde op 'n gepaste sanksie te besluit.

Wat presies growwe of ernstige oneerlikheid daarstel, gaan deur die spesifieke omstandighede van elke geval bepaal word. Die ondersoek moet fokus op die impak wat die oneerlike optrede op die partye se vertrouensverhouding het.

Die versagtende faktore wat hier aangebied word, dui op die beginsels en die praktiese toepassing hiervan:- ? Daar was geen direkte verlies of skadelike nagevolge vir die werkgewer nie. (In gevalle van direkte verlies, byvoorbeeld as gevolg van diefstal, kan selfs 'n mindere diefstal tot ontslag aanleiding gee.) ? Die oneerlike optrede was buite werksverband gepleeg. ? Die oneerlike optrede verwys na 'n geval wat jare gelede plaasgevind het (in hierdie geval het dit nege jaar gelede gebeur en die Skerpioene het die vervalste bestuurderslisensie in die verbygaan ontdek.) Hierdie versagtende faktore word wel deur die hof in aggeneem. Die hof bevind egter dat die werkgewer geregtig is om te verwag dat sy senior munisipale bestuurders onkreukbare rekords moet hê. Hier word bevind dat die bedrieglike optrede tekenend is van 'n hoë mate van korrupsie en oneerlikheid. Daar is ook geen sprake van enige berou van die munisipale bestuurder se kant af nie. Die hof bevind dat die ontslag wel billik was.

Elke saak gaan verskil - verkry advies en neem 'n ingeligte besluit oor wat in elke geval 'n gepaste sanksie gaan wees.

DIE HANDELSBEPERKING EN DIE SUSHI-SAAK

Indien jy 'n besigheid koop en die verkoper begin weer met 'n soortgelyke besigheid in direkte mededinging met jou, moet jy jouself afvra of dit jou gaan benadeel. Die antwoord is gewoonlik 'n oorverdowende ja. Indien wel, moet die koopooreenkoms jou beskerm en die nodige handelsbeperking bevat. So 'n beperking moet reg opgestel word om afdwingbaar te wees. Ons howe sal nie 'n handelsbeperking afdwing indien die strekwydte daarvan onredelik bevind word nie - hetsy in die beperkende aard, geografiese gebied of tydsduur van die inperking nie.

'n Hof sal wel 'n handelsbeperking afdwing, selfs met wye bewoording, indien dit redelik bevind word. In hierdie spesifieke geval het die ooreenkoms die verkoper van 'n Italiaanse restaurant verbied om vir 'n tydperk van drie jaar 'n soortgelyke besigheid te bedryf, insluitende 'n restaurant of koffiewinkel van enige aard.

Die verkoper het 'n Sushi-saak daar naby oopgemaak. Sy voer aan dat 'n Japanese sushi-saak nie met 'n Italiaanse restaurant meeding nie en dat haar bedryf ingestel is op wegneem-etes en nie op restaurant-etes nie. Die hof was nie juis beïndruk met hierdie gesofistikeerde onderskeidings nie en sy word verbied om haar sushi-saak te bedryf. Die hof bevind dat sy, in stryd met haar ooreenkoms met die koper, steeds 'n restaurant bedryf, ten spyte van die ooglopende verskille in die styl en kossoorte wat aangebied word.

Die hof bevind ook dat dit nie relevant is dat die koper die Italiaanse restaurant se naam, spyskaart en dekor verander het nie. Dit was steeds 'n restaurant en hy was geregtig op die beskerming waarop die partye oorspronklik kontraktueel met die handelsbeperking en gepaardgaande vasstelling van die koopprys ooreengekom het.

Elke geval gaan verskil. Die partye behoort altyd hulle posisies duidelik in die ooreenkoms uiteen te sit. Dit is tog waarvoor die ooreenkoms daar is. Om enige onduidelikheid en onsekerheid uit die weg te ruim, sodat die kontrakspartye presies weet waar hulle met mekaar staan. Om latere litigasie en onnodige regskostes te verhoed. Hier is byvoorbeeld nou sprake dat die verloorder appèl gaan aanteken teen die uitspraak. Maak dus eerder seker dat jou kontrak vanuit die staanspoor deur 'n kundige opgestel word om die spesifieke verkoopstransaksie se spesiale omstandighede en bepalings behoorlik en ondubbelsinnig te verwoord.

BELASTINGSPERDATUMS - VERMY DIE LANG RYE!

Hou 'n oog op die belastingsperdatums en maak seker dat jy jou Inkomstebelastingopgawe betyds indien. SARS dui aan dat administratiewe boetes van R250 per maand opgelê kan word vir elke maand wat jou opgawe laat is.

Die sperdatums is die volgende: - ? In gevalle waar jy jou belastingopgawe per hand invul en per gewone pos of per SARS Bus indien en jy nie 'n voorlopige belastingbetaler is nie, is jou sperdatum 30 September 2011. ? In gevalle waar jy jou belastingopgawe elektronies per "e-Filing" indien en jy nie 'n voorlopige belastingbetaler is nie, is jou sperdatum Vrydag 25 November 2011. ? Voorlopige belastingbetalers wat hul belastingopgawes elektronies per "e-Filing" indien, het tot Dinsdag 31 Januarie 2012 om dit te doen. Verkry meer inligting en riglyne by Sars en hul Belastinggids vir 2011 op die SARS webwerf te http://www.sars.gov.za/tools/Printbody.asp?pid=57785

Om die lang rye by SARS te vermy stel ons voor dat jy ook vir e-filing registreer, indien jy dit nie al reeds gedoen het nie. As jy eers by SARS geregistreer het, is die proses redelik voorspelbaar en gebruikersvriendelik. (Volle besonderhede en stap-vir-stap registrasie te http://www.sarsefiling.co.za).

VASTETERMYNKONTRAKTE: BANKE VRYGESTEL VAN DIE WET OP VERBRUIKERSBESKERMING

"A bank is a place that will lend you money if you can prove that you don't need it" (Bob Hope)

Die Minister van Handel en Nywerheid het onlangs amptelik kennis gegee dat banke vrygestel word van sekere bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die betrokke bepalings beperk langtermynkontrakte tot 24 maande, gee verbruikers die opsie om kontrakte met kennis van 20 besigheidsdae te kanselleer (onderhewig aan die betaling van 'n redelike kansellasiefooi) en dit reguleer in die algemeen kennisgewings van beëindiging en die outomatiese verlenging van ooreenkomste.

Indien jy dus 'n vastetermynbelegging by 'n bank maak, is jy gebonde aan die volle termyn daarvan. Jy sal dus nie jou geld met 20 besigheidsdae kennis kan opvra indien die rentekoerse skielik drasties verhoog nie. Partye sal dus ook oor en weer gebonde wees aan aandele-opsie en bateruiltransaksies op die finansiële markte.

TRANSVET REGULASIES - LEES DIE ETIKET!

Vanaf 17 Augustus 2011 sal dit onwettig wees om enige olies of vette te verkoop wat meer as 2% industrieel-vervaardigde transvetsure bevat ("industrially produced trans-fatty acids"). Let daarop dat natuurlike transvet (soos die klein hoeveelhede wat natuurlik in melk en in die vleis van sekere diere voorkom) nie hierdeur geraak word nie. Dit is kunsmatig-vervaardigde vette wat 'n ernstige risiko vir ons gesondheid inhou.

'n Advertensie of etiket van 'n produk mag slegs aandui dat dit "Transvetvry" is indien dit minder as 1% kunsmatig-vervaardigde transvet bevat.

Hierdie is nie onbekende nuus vir vervaardigers, invoerders en kleinhandelaars nie; hulle het darem al meer as ses maande kennis gehad van hierdie vereiste wat kom. Uiteindelik bly jy natuurlik self verantwoordelik vir jou en jou gesin se gesondheid. Onthou dat die uiteensetting van die persentasies per 100g belangrik is en vir jou die mees bruikbare aanduiding gee oor die inhoud en samestelling van die voedselproduk ter sprake.