1. Dit was allerweë die verwagting dat die perk vir "regsentiteite" (volgens die wet sluit dit maatskappye, korporasies, vennootskappe en trusts in) om uitgesluit te word van die beskerming van die verbruikerswet op R3 Miljoen vasgestel sou word. Hierdie perk, wat op batewaarde of jaarlikse omset bereken word, is onverwags vasgestel op die mindere bedrag van R2 miljoen. Dit hou in dat daar duisende klein- en mediumgrootte besighede is wat verplig word om as "verskaffer" sake te doen, maar wat nie die beskerming geniet om as 'n "verbruiker" erken te word nie.

 

  1. Dit was allerweë die verwagting dat die perk vir "regsentiteite" (volgens die wet sluit dit maatskappye, korporasies, vennootskappe en trusts in) om uitgesluit te word van die beskerming van die verbruikerswet op R3 Miljoen vasgestel sou word. Hierdie perk, wat op batewaarde of jaarlikse omset bereken word, is onverwags vasgestel op die mindere bedrag van R2 miljoen. Dit hou in dat daar duisende klein- en mediumgrootte besighede is wat verplig word om as "verskaffer" sake te doen, maar wat nie die beskerming geniet om as 'n "verbruiker" erken te word nie.

  1. Met betrekking tot vastetermynkontrakte: -

o Die maksimum toelaatbare kontraksperiode van vier en twintig maande maak ook nou voorsiening vir uitsonderings. Indien die partye uitdruklik so ooreenkom, kan die termyn dus langer wees, mits daar duidelik finansiële voordeel vir die verbruiker aangetoon kan word. So moenie net aanvaar dat 'n termynkontrak nie meer langer as twee jaar geldig kan wees nie - maak seker oor die periode wat in die ooreenkoms bepaal word. o Sou jy besluit om 'n vastetermynkontrak voortydig te kanselleer, moet jy kennis neem dat die "redelike" boete wat deur die verskaffer gehef kan word, nie meer tot 10% beperk is nie. Die finale Regulasies verwys na 'n verskeidenheid van faktore wat in ag geneem kan word om te bepaal wat 'n redelike bedrag sal wees om van jou te verhaal vir vroeë beëindiging. Die belangrikste is seker dat daar, in teenstelling met die konsepregulasies, nie meer sprake is van 'n absolute beperking op die kontraktuele strafbepaling nie. Wees dus versigtig wanneer 'n verkoopspersoon vir jou sê: "Moenie bekommerd wees oor die voorgeskrewe tweejaartermyn vir hierdie selfoon- / gimnasiumkontrak nie, want jy kan ter enige tyd ingevolge die Verbruikerswet die termynkontrak kanselleer." Vroeë kansellasie kan jou duur te staan kom.

VROEG BEGONNE IS HALF GEWONNE - GLADDE TRAPPE EN DIE SORGSAME EIENAAR

'n Onlangse saak in die Hoë Hof beklemtoon die risiko's waarmee eienaars van geboue rekening moet hou as hul nie deurentyd hul persele behoorlik in stand hou nie. Selfs 'n kleinerige instandhoudingstaak soos om uitgediende gloeilampe gereeld en betyds te vervang, kan 'n lelike nadraai hê, indien dit nie gedoen word nie.

Die Hof bevind dat die eienaar van 'n winkelsentrum aanspreeklik is vir die beserings wat 'n besoeker daar opgedoen het. Die besoeker is beseer toe hy gegly het op 'n gladde kol op 'n stel trappe wat swak belig was. Die hof vind dat die eienaar sy plig versuim het deur nie seker te maak dat die trappe droog was nie en ook nie dat die beligting in stand gehou is nie.

Die eienaar, so bevind die hof, het duidelik 'n sorgsaamheidsplig teenoor persone wat die trappe gebruik om te verseker dat hulle nie daardeur in gevaar gestel word nie.

Uit die feite van die saak blyk dit dat die ongeluk nooit sou plaasgevind het indien slegs een defektiewe gloeilamp behoorlik in stand gehou was en tydig vervang is nie. Die hele voorval sou dus vermy gewees het - 'n geval van "vroeg begonne is half gewonne".

BORGSKAP BLIND GETEKEN - BOER R8 MILJOEN UIT DIE SAK GEJAAG

'n Onlangse Appélhofsaak rig weereens 'n waarskuwing aan die ondertekenaar van enige dokument dat jy moet lees wat jy teken - en dit moet begryp.

Hier is 'n boer aanspreeklik gehou as borg vir 'n skuld van R8 miljoen wat deur 'n boerderytrust aan 'n skuldeiser verskuldig was.

Alhoewel die boer 'n trustee van die boerderytrust is ("slegs in naam" soos hy dit stel), het die boer geen persoonlike belang in die trust gehad nie. Hy was ook nie enigsins betrokke by die onderhandeling van die lening van R8 miljoen nie. Hy dui aan dat hy onwetend 'n persoonlike aanspreeklikheidsklousule geteken het, wat mooi weggesteek was in 'n bundel dokumentasie van 75 bladsye. Aldus die boer het hy nie die dokumentasie gelees voordat hy dit onderteken het nie, omdat hy onder die indruk was dat hy slegs as trustee teken en nie enige persoonlike regsaanspreeklikheid daardeur sou opdoen nie.

Aangesien daar geen wanvoorstelling of bedrog aan die kant van die skuldeiser was nie, beslis die Hof dat die getekende borgskap geldig was en dat die boer daardeur gebind was om as borg vir die trust se skuld te betaal.

DIE NUWE MAATSKAPPYWET - MOET JY LAAT OUDIT?

Die vraag of die jaarlikse finansiële state van privaat maatskappye professioneel hersien of geoudit moet word, sal bepaal word deur die maatskappy se telling van openbare belang ("Public Interest Score") - 'n maatstaf van ekonomiese of sosiale belang wat breedweg soos volg vasgestel sal word: - 1. 1 punt per werknemer in diens (die gemiddelde getal werknemers vir die jaar word gebruik) 2. 1 punt vir jaarlikse omset van elke R1 miljoen of deel daarvan 3. 1 punt vir elke R1 miljoen of deel daarvan wat aan 'n derde party verskuldig is ("third party liability") 4. 1 punt vir elke aandeelhouer (en vir enige ander party met 'n direkte of indirekte voordelige belang ("beneficial interest") in die uitgereikte aandeelhouding of verwante skuldbriewe of sekuriteite).

As jou puntetelling - ? 350 of meer is - word 'n volle oudit vereis; ? 100 - 349, waar die finansiële state intern deur jou eie personeel opgestel word- word 'n volle oudit vereis; ? 100 - 349, waar die finansiële state onafhanklik deur eksterne partye opgestel word - is dit onderworpe aan 'n onafhanklike oorsig deur 'n ouditeur of GR (Geoktrooieerde Rekenmeester) ("CA"); ? Onder 100 is - 'n onafhanklike oorsig word vereis en die finansiële state moet opgestel word deur 'n persoon wat gekwalifiseer is om as rekeningkundige beampte van 'n beslote korporasie op te tree. Waar alle aandeelhouers van 'n maatskappy ook direkteure van die maatskappy is, word die maatskappy - behalwe vir enkele uitsonderings - in geheel vrygestel van die verpligting van onafhanklike oorsig.

Hoewel dit vir die meerderheid van maatskappye nie verpligtend sal wees om ge-oudit te word nie, gaan baie maatskappy dit waarskynlik steeds laat doen. Hierdie oudits sal dan gedoen word vir interne bestuursgebruik en ook op aandrang van die direksie, aandeelhouers en natuurlik ook van finansierders wat 'n wesentlike belang in die maatskappy het omdat hulle graag terugbetaal wil word. In hierdie geval kan maatskappye oorweeg om 'n vrywillige oudit in stede van 'n statutêr voorgeskrewe oudit te laat doen - dit behoort minder te kos en dit behoort ook minder tyd in beslag te neem.

Wees bedag daarop dat ons almal hier met nuwe wetgewing te make het. Verkry rekeningkundige en/of regsadvies indien daar enige onsekerheid hieroor by jou bestaan, voordat jy enige besluite hieroor neem.

HUIS IN EKSEKUSIE VERKOOP: KAN DIE OU EIENAAR EIS?

Gelduitleners gaan ongetwyfeld meer waaksaam moet wees om residensiële verbande toe te staan, veral aan die laer kant van die mark. Dit na aanleiding van die onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof waarin bevind is dat slegs 'n geregtelike amptenaar 'n persoon se woning vir beslaglegging vatbaar kan verklaar.

In die verlede, toe vonnis (gewoonlik 'n vonnis by verstek) teen 'n wanbetaler geneem is, kon die Griffier van die Hoë Hof die verkoop van die skuldenaar se woning in eksekusie magtig. Die magtiging is dus verkry deur 'n administratiewe funksie van 'n administratiewe amptenaar.

Voortaan sal die Hof self die feite van elke saak geregtelik moet oorweeg, alvorens daar bepaal kan word of die eksekusieverkoping van 'n persoon se woning toegestaan sal word al dan nie. "Daar moet ook ag geslaan word op die effek wat dit mag hê op arm vonnisskuldenaars wie die gevaar loop om hul wonings te verloor. As die vonnisskuld op 'n redelike manier gedelg kan word, sonder om sulke drastiese gevolge mee te bring, moet die geregtelike amptenaar ook hierdie alternatiewe moontlikhede eers geregtelik oorweeg, voordat 'n eksekusiebevel toegestaan sal word." (Aanhaling uit die uitspraak vrylik vertaal.)

Dit is natuurlik goeie nuus vir behoeftige huiseienaars. Soos die Grondwetlike Hof in sy uitspraak opmerk sal selfs vorige verkope in eksekusie in gepaste gevalle hersien kan word. Met ander woorde, eienaars wat hul huise in die verlede met eksekusieverkopings verloor het, kan dalk sulke verkope as ongeldig laat verklaar.

Die Hof het nie uitgewei oor wat die effek van so 'n ongeldigheid sou wees nie. Waarskynlik sal 'n geldelike eis teen die krediteur - eerder as 'n her-oordrag van die eiendom -die toepaslike roete wees wat die vorige eienaar sou volg.

Dit is nie 'n uitgemaakte saak dat die vorige eksekusieverkope ongedaan gemaak gaan word nie. Ten eerste moet die skuldenaar goeie redes aantoon vir die oorspronklike vonnis om tersyde gestel te word. Hierna moet hy die Hof oortuig dat 'n Hof met volle kennis van al die relevante feite ten tye van die toestaan van vonnis by verstek, sou geweier het om beslaglegging en eksekusieverkoping van die debiteur se woning te magtig.

Dit is onwaarskynlik dat dit so maklik sal wees as wat sommige onlangse media verslae dit wil hê. Hoe dit ook al sy, indien daar by jou as skuldeiser enige twyfel bestaan, verkry volledige advies voordat jy met die eksekusieproses voortgaan.

LOPENDE BETAALSTELSEL - REKONSILIASIES IS BINNEKORT VERSKULDIG: MOENIE UITSTEL NIE!

SARS het aangekondig dat die jaarlikse LBS rekonsiliasie verklaring vir die 2011 belastingjaar teen 3 Junie 2011 ingedien moet word. Moet eerder nie laat wees nie, aangesien wesentlike boetes opgelê word indien dit nie nagekom word nie.

As jy van voorneme is om die rekonsiliasie aanlyn in te dien, moet dit nie vir die laaste minuut los nie. Jy sal eers 'n nuwe weergawe van e@syFile sagteware moet aflaai en installeer voordat jy enigiets anders kan doen - jy kan nie net soos in vorige jare jou huidige weergawe opdateer nie.

Sien die "2011 Employers Tax Season" webblad op die SARS webwerf te http://www.sars.gov.za/home.asp?pid=57785 vir meer besonderhede.