Waar die waarde van 'n huis en ook die aangrensende huise ter sprake is, word dikwels gevra of jy 'n huis kan bou of verbou waar dit noodwendig die uitsig van ander eiendomme gaan belemmer?

 

Waar die waarde van 'n huis en ook die aangrensende huise ter sprake is, word dikwels gevra of jy 'n huis kan bou of verbou waar dit noodwendig die uitsig van ander eiendomme gaan belemmer?

Die Grondwetlike Hof het in 'n onlangse uitspraak 'n einde gemaak aan 'n eienaar se geveg van vyf jaar om sy uitsig te behou. Die hofuitspraak beklemtoon dat jy as koper die situasie behoorlik moet navors, voordat jy die eiendom in die eerste plek aankoop.

Wanneer jy oorweeg om 'n eiendom te koop en 'n waarde daarop wil plaas, moet jy jou huiswerk doen. Jy moet alle wetlike beperkinge in ag neem wat op die eiendom (en op die aangrensende eiendomme) van toepassing is; dit sluit in voorskrifte van die plaaslike stadsbeplanningskantoor, sonerings- en boubeperkings asook voorwaardes wat in die titelakte van die eiendom vervat is. Jy moet ook in ag neem dat jou bure heel moontlik in die toekoms hul eiendomsregte ten volle sal uitoefen of opeis en dit ook in ag neem wanneer jy 'n waarde op die eiendom wil plaas.

Wanneer 'n plaaslike owerheid bouplanne oorweeg, moet hulle onder andere in ag neem of die voorgestelde bouwerk die waarde van aangrensende of naburige eiendomme gaan verminder of waarskynlik gaan verminder. Die hof bevind dat daar geen vermindering van waarde is nie, tensy:- 1. die eiendom ter sprake die beperkinge wat deur regsvoorskrifte neergelĂȘ is, oorskry; enersyds of 2. waar die voorgestelde gebou of bouwerk, selfs al voldoen dit tegnies aan die voorskrifte, so onooglik is of so ingrypend inbreuk maak op die regte van ander, dat dit die regmatige verwagtinge van die partye tot die koopooreenkoms in geheel oorskry. Om op te som: daar is geen algemeen erkende regsbeginsel wat enigiemand van 'n spesifieke uitsig waarborg nie; jy kan ook nie kla wanneer dit vanuit die staanspoor met die aankoop van jou eiendom duidelik of voorsienbaar was dat jy op 'n latere stadium die uitsig sou verloor nie.

Doen jou navorsing voortydig, voordat jy die koopooreenkoms teken; of wees bereid om met die gevolge van jou besluit om dit nie te doen nie, saam te leef.