Algemene sake

 

Algemene sake

DIE "TE STIGTE MAATSKAPPY" - WEES WAKKER WANNEER JY EIENDOM KOOP

Jy het uiteindelik die perfekte eiendom teen die regte prys gevind. Is dit moontlik om die eiendom in die naam van 'n maatskappy te koop wat nog nie geregistreer is nie?

Ja, jy kan. 'n Sogenaamde voor-inlywingskontrak het ten doel om die maatskappy te bind sodra dit geïnkorporeer word. Moet eerder nie in jou opgewondenheid net voortgaan om die aanbod of koopkontrak te teken nie - kry eerder eers advies en leiding. Dit is belangrik dat die ooreenkoms duidelik onderskei tussen die status van die ondertekenaar en die status van die te stigte maatskappy. Anders eindig die ooreenkoms ook in die Hoë Hof met regspanne wat ten duurste oor regskonsepte soos bedinge ten behoewe van 'n derde of die sogenaamde "stipulatio alteri" argumenteer. In hierdie geval het die Hof bevind dat die koopooreenkoms ongeldig was, aangesien daar nie behoorlik voldoen is aan die voorskrifte van die Wet op Maatskappye nie.

Hier was die ou Maatskappywet nog van toepassing; dit is net so belangrik om aan die bepalings van die nuwe Maatskappywet te voldoen - anders loop jy (of eerder die maatskappy) die risiko om die eiendom te verloor.

Die nuwe wet verskuif ook verdere risiko's na die persoon wat voor inlywing namens die maatskappy kontrakteer. Wanneer die maatskappy dan wel geïnkorporeer word en nie die voor-inlywingsooreenkoms aanvaar of ratifiseer nie, bly enige verpligtinge uit die ooreenkoms steeds met die persoon wat die ooreenkoms namens die maatskappy aangegaan het. Hierdie persoonlike aanspreeklikheid is ook nie beperk tot die ondertekenaar nie - die wet sluit enige persoon in wat namens die maatskappy optree by die sluit van die koopooreenkoms.

Ten minste bepaal die wet nou dat die ooreenkoms geag word behoorlik deur die direksie geratifiseer te wees, indien die ooreenkoms nie binne drie maande vanaf die inlywingsdatum uitdruklik geratifiseeer of verwerp is nie.

Dit is in elk geval suiwer praktyk om so gou moontlik enige twyfel uit die weg te ruim, deur binne drie maande na inlywing enige ooreenkomste deur die direksie te laat ratifiseer.

Ter opsomming - moet eerder nie namens 'n te stigte maatskappy dokumente onderteken nie, tensy: - 1. Jy seker is dat die ooreenkoms reg bewoord is; 2. Jy volle vertroue het dat die maatskappy wel inkorporeer gaan word; 3. Jy selfs meer vertroue het dat die ooreenkoms wel deur die maatskappy ratifiseer sal word (of ten minste nie verwerp of gewysig sal word nie.) Nota: Die vraag of jy 'n eiendom in jou eie naam, maatskappy of trust moet koop bly 'n ingewikkelde en gewilde een. Verkry advies oor welke een die beste vir jou spesifieke omstandighede sal wees. Indien jy sou besluit dat die eiendom in 'n trust geregistreer moet word, weet net dat bovermelde nie van toepassing gaan wees nie.

By trusts is daar nie statutêre voorsiening vir die ratifisering van "voor-inlywingskontrakte" nie. Dit kan met ander woorde nie gedoen word nie. 'n Trust moet eers formeel geregistreer word EN die Trustees moet SKRIFTELIK by wyse van formele aanstellingsbriewe, uitgereik deur die Meester van die Hoë Hof, gemagtig word om namens die trust op te tree en ooreenkomste aan te gaan. Die trustees moet hierdie bevoegdhede nougeset in ooreenstemming met die bepalings en riglyne van die trustakte uitvoer.

Indien op 'n maatskappy besluit word, moet jy ook oorweeg of jy 'n maatskappy van nuuts af gaan registreer en of 'n rakmaatskappy kan werk. Een van die voordele van 'n rakmaatskappy is natuurlik dat die maatskappy reeds bestaan en dus reeds geldige besluite kan neem.

PIKNAGDONKER EN JY DRAF - ONVEILIGE SYPAADJIE EN JOU REMEDIES

Op 'n koue, reënerige en winderige aand draf die eiser op 'n sypaadjie. Totdat hy in 'n onbedekte mangat val en sy been breek.

In die daaropvolgende uitspraak bevind die hof dat die munisipaliteit aanspreeklik gehou moet word vir die drawwer se beserings en skadevergoeding. Die hof bevind dat daar 'n positiewe regsplig op die munisipaliteit as 'n plaaslike owerheid en openbare liggaam rus om seker te maak dat die oop gate en tombes nie 'n gevaar vir die publiek daarstel nie. Hierdie verantwoordelikheid rus nog swaarder op die plaaslike owerheid omdat dit alombekend was dat daar deurlopende en endemiese diefstal van hierdie deksels in die omgewing plaasvind.

Die munisipaliteit het aangevoer dat as gevolg van begrotingsoorwegings, daar 'n besluit geneem is om mangatdeksels slegs selektief te vervang en slegs in gevalle waar die afwesigheid daarvan 'n onmiddellike gevaar vir die publiek daarstel. Die hof beskryf hierdie beleid as arbitrêr en irrasioneel.

Die hof bevind ook dat die drawwer nie bydraend nalatig was nie - dit kon nie van hom verwag word om te voorsien dat die sypaadjie 'n gapende gat sonder 'n deksel oor gehad het nie "that the pavement had in it an uncovered valve chamber which "was not visible, was not demarcated, or barricaded, and did not have reflective signage warning the public of its presence".

Wanneer jy dus skade ly as gevolg van die toestand van 'n pad of sypaadjie (of enige ander vorm van gevaar soos slaggate in die pad) verkry advies en stel vas of jy nie dalk na die plaaslike oweheid moet kyk om jou skade te verhaal nie.

WERKGEWERS : VOLDOEN AAN DIE EMP501 SPERTYD!

Moet eerder nie jou tussentydse EMP501 Werkgewer Rekonsiliasie Verklaring tot die laaste minuut los nie. Teen 31 Oktober moet dit in wees - of boetes is weer jou voorland. Eers gaan jy jou moet vergewis van die sisteem se nuwe voorskrifte: - ? Indien jy die aanlynweergawe van "e@syFile" gebruik, moet jy seker maak dat jy die mees onlangse sagteware gelaai het. Opgawes met die ou sagteware sal nie aanvaar word nie. ? Indien jy nog opgawes per hand wil indien, kan jy blanko rekonsiliasievorms van SARS se Kontaksentrum aanvra of direk van jou naaste tak aanvra. Hoewel die vorms nie meer by die takke beskikbaar is nie, sal SARS dit wel op versoek per pos aan jou versend.

ONTHEFFING VAN 'N LIKWIDATEUR: BEPERKTE GRONDE EN OMSTANDIGHEDE

In 'n hoë profiel likwidasie wat reeds uit 2009 spruit, is twee van die ses aangestelde likwidateurs onlangs van hul aanstellings onthef. Die beginsels wat hier ter sprake is, is dalk nie duidelik oorgedra nie.

In breë trekke beskik die Meester van die Hoë Hof oor die diskresionêre bevoegdheid om 'n persoon wat as likwidateur aangestel is, van sy aanstelling te onthef. Die gronde waarop hierdie diskresie berus, sluit in:- 1. Indien die persoon nie geskik is om genomineer of aangestel te word nie, of 2. Versuim om behoorlik sy voorgeskrewe pligte na te kom, of die nalate om aan enige wettige versoek of opdrag van die Meester te voldoen, of 3. Persoonlike insolvensie, of fisiese of geestelike onvermoë om sy of haar pligte as likwidateur na te kom, of 4. 'n Formele besluit geneem by 'n formele vergadering van skuldeisers waar so 'n stemming plaasvind, of 5. Waar die Meester van mening is dat dit nie meer gepas is dat die persoon as likwidateur van 'n spesifieke maatskappy moet optree nie; as gevolg van vooroordele, begunstiging of 'n afwesigheid van onafhanklikheid. Ongelukkig word hierdie diskresie nie altyd met die suiwerste bedoelings uitgeoefen nie. In 'n minder bekende saak wat onlangs voor die Hoë Hof gedien het, het twee persone suksesvol aansoek gedoen vir die hersiening van die Meester se besluit om hulle as likwidateurs te verwyder. Die uitspraak gee leiding oor die toepaslike beginsels ter sake: - ? Die hof sal as uitgangspunt nie sommer inmeng met die behoorlike uitoefening van die Meester se diskresie nie. ? Die ontheffing van 'n likwidateur is wel 'n drastiese stap wat nie ligtelik geneem kan word nie. ? Die getuienis moet aantoon dat die optrede van die likwidateur werklik die belange en proses van likwidasie benadeel het. ? Die Meester moet ten alle tye die belang van die groep van skuldeisers as geheel in gedagte hou. In hierdie geval het die oorspronklike aansoek vir die verwydering van die aangestelde likwidateurs direk van die gewese direkteure van die gelikwideerde maatskappy gekom. Dit nadat dit duidelik geword het dat die direkteure aanpreeklik gehou sou word vir hul wandade met die bestuur van die maatskappy, wat direk tot die maatskappy se ondergang gelei het. Die direkteure was reeds aan die ontvangkant van ongemaklike geregtelike ondervragings en dagvaardings toe hulle aansoek gedoen het vir die verwydering van die likwidateurs.

Volgens die hof was die direkteure se aansoek vir verwydering ......." a personal attempt" by the directors "to frustrate the liquidation process for their own personal ends".

Die Hof bevind dat die persone nooit verwyder moes word nie en stel hulle summier weer in hul pos as gesamentlike likwidateurs aan. Die hof draai nie doekies om oor die besluit van die betrokke Assistent Meester nie; die hof vind dat dit of uiterste onbevoegdheid of bloot mala fides was, wat daartoe aanleiding gegee het. Hierdie besluit word dan ook nie vir heroorweging na die betrokke Meesterskantoor terugverwys nie. Die hof maak self die heraanstelling.

SENSUS 2011: WAT JY MOET WEET!

Maak jouself solank gereed vir Sensus 2011, van 10 tot 31 Oktober - ? Volgens Statistiek SA sal dit ongeveer 45 minute per huishouding neem om die vraelys te voltooi. Daar is voorskou voorbeelde op die webwerf -

o Die vraelys vir 'n Huishouding te http://tinyurl.com/6xqsqjz o Die vraelys vir persone in beweging (op reis, in hotelle en gastehuise, in kampeerplekke, op lughawens, ontheemdes en huisloses, ensovoorts) te http://tinyurl.com/6yfbozg

? Dit is onwettig om te weier om aan die sensus deel te neem of om 'n sensusbeampte te verhoed om sy of haar werk te doen. Voorsiening is gemaak vir strafregtelike optrede en strawwe wat opgelê kan word. ? Statistiek SA maak dit ook duidelik dat die inligting wat die publiek aan die sensusopnemer verskaf, vertroulik is; hierdie vertroulikheid geniet ook statutêre beskerming. ? Maak seker dat die sensusopnemer by jou deur die ware Jakob is en nie 'n kansvatter is nie. Die sensusopnemers sal oor amptelike Identiteitskaarte beskik. Dan is daar natuurlik ook die getroue geel hemp / bib, hoed en sakke wat die amptelike logo van beide Sensus 2011 en Statistiek SA daarop moet hê. As jy enigsins twyfel of ongemaklik is moet jy die Sensus 2011 Hulplyn skakel by 0800 110 248 om die sensusopnemer se besonderhede na te gaan en te verifieer. ? Beperk jou antwoorde tot dit wat op jou sensusvorm aangevra word. Wees veral bedag daarop dat jy geen inligting beskikbaar maak wat later vir identiteitsdiefstal of bedrog gebruik kan word nie. By http://tinyurl.com/5rlv65s kan jy 'n foto sien van hoe jou sensusopnemer in uniform getooi gaan wees.

BEDROG IS 'N KANKER! HOWE NEEM STERK STANDPUNT IN

Ons howe neem toenemend sterk standpunt in teen bedrog en ander vorme van sogenaamde witboordjiemisdaad.

Die Hoë Hof bevestig onlangs dat bedrog 'n ernstige misdaad is wat ongelukkig toenemend in ons samelewing gepleeg word. Die hof bekragtig dan 'n vonnis van vyf jaar se effektiewe gevangenisstraf (met 'n verdere drie jaar wat voorwaardelik vir 'n periode van vyf jaar opgeskort word). 'n Kliniese sielkundige en eerste oortreder staan aan die ontvangkant van hierdie vonnis waarby bedrog van R720 000 ter sake was. Ten einde oorbruggingsfinansiering vir 'n eiendomstransaksie te verkry, het sy briewe en ondernemings vervals waaruit dit sou blyk dat sy binnekort voldoende fondse van 'n oorsese eiendomstransaksie sou verkry om die lening te vereffen.

In 'n ander geval het die Hoogste Hof van Appèl ook vanjaar 'n vonnis van vier jaar se effektiewe gevangenisstraf (met 'n verdere twee jaar wat opgeskort is) bekragtig. Die verkoopsbestuurder van 'n motorhandelaar is hier skuldig bevind aan 157 gevalle van bedrog en een van korrupsie. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy 'n aktiewe deelnemer was in 'n bedrieglike skema waardeur SARS met ongeveer R1,6 miljoen se uitset BTW ingeloop is.

Wanneer jy self 'n slagoffer raak van bedrog, of weet van bedrog of korrupsie in jou omgewing, meld dit aan.