Dit sal 'n omwenteling meebring in die regte van enige koper wat voortaan eiendom in Suid Afrika koop. So wees ingelig en wees voorbereid.
Eerstens, die Wet op Verbruikersbeskerming sal nie op alle eiendomstransaksies van toepassing wees nie:- ? Dit sal waarskynlik nie van toepassing wees op die bekende en algemene eiendomstransaksie waar 'n bestaande huiseienaar sy eiendom direk aan 'n ander persoon verkoop nie. Dit is eerder gemik op grootskaalse handelsverkopers, soos ontwikkelaars, eiendomspekulante en ander eiendomshandelaars. Die toetsvraag is of jy gereeld eiendomme as deel van jou sakebedrywighede verkoop. ? Die wet is wel in geheel op eiendomsagente van toepassing; op hul algemene bemarkingspraktyke en op alle mandate wat hulle van beide verkopers en kopers ontvang (ook in algemene eiendomstransaksies hierbo genoem). Agente, wat uiteraard ook integraal is in die verskaffingskanaal, mag vind dat hulle saam met ontwikkelaars, bouers en eiendomspekulante teenoor die verbruiker aanspreeklik gehou kan word vir gebreke in die eiendom. Waar die wet wel van toepassing is, word die volgende vereis: - ? Billike en redelike bemarking. Bemarking wat op enige wyse misleidend of bedrieglik is, word verbied. ? Dokumentasie moet in eenvoudige en verstaanbare taal opgestel word. ? Regverdige en eerlike handelsoptrede. Misleidende of valse voorstellings, woordeliks of stilswyend deur optrede ge-impliseer, word deur die wet verbied. ? Billike, regverdige en redelike terme en voorwaardes. ? Billike waarde, goeie kwaliteit en veilige produkte en dienste. Dit is duidelik dat die koper (eindverbruiker) die voordeel van hierdie wydlopende beskerming sal geniet. Die vereiste van billike waarde hou in dat die koopprys ondersoek kan word om te bepaal of dit redelik is. Die "voetstoots" klousule is ook in die spervuur en daar word gespekuleer dat dit nie meer afdwingbaar sal wees nie. Die koper sal die reg hĂȘ om defektiewe huise terug te gee en/of aan te dring op die herstel van gebreke; nieteenstaande enige klousules in die koopoooreenkoms wat die teendeel aandui.
In gevalle waar die partye gaan litigeer, sal die howe nie net die koopooreenkomste self beoordeel nie, maar ook alle voorafgaande onderhandelinge. Alle voorstellings en waarborge wat deur die verkoper en / of sy agente aan die koper gemaak is, sal ook in ag geneem word by die hantering van die dispuut.
Ter opsomming: Ontwikkelaars, bouers, eiendomspekulante en eiendomsagente - vergewis julle van die inhoud van die verbruikerswetgewing wat eersdaags in werking gaan tree.
Maak seker dat kopers regverdig, regmatig en billik hanteer word; dat hul verstaan wat hulle koop en ook die terme en voorwaardes waarop hulle koop, verstaan; en dat hulle kry waarvoor hulle betaal. Hou skriftelike rekords, nie net van die getekende koopooreenkomste nie, maar ook van alle voorafgaande onderhandelinge, voorstellings wat gemaak word en bemarkingsmateriaal wat gebruik is.
In gepaste gevalle sal dit die agent en die verkoper / ontwikkelaar baat om 'n volledige, onafhanklike inspeksieverslag aan te vra met die voltooiing van bouwerk (of van die bestaande strukture indien die geboue reeds bewoon was).
Neem kennis: Ons het hier met komplekse wetgewing te doene. Die kommentaar hierbo vervat is van 'n algemene aard; daar is nog baie grys areas ter sprake. Soos wat hierdie wetgewing in die hof getoets word, sal die howe in tyd verdere riglyne, uitleg en interpretasie oor die praktiese toepassing daarvan gee. Indien daar dus by u twyfel oor u spesifieke geval bestaan, is dit belangrik om regsadvies hieroor in te win.